Thursday, December 10, 2009

Pelgrimstog pragtig beskryf Stoffel Cilliers in Volksblad vir Book SA - Reviews



Review in Die Volksblad

THE WAY OF STARS AND STONES. Thoughts on a Pilgrimage. Deur Wilna Wilkinson. Jacana Media. Sagteband. R175.

VOLGENS oorlewering het die apostel Jakobus die evangelie in Spanje verkondig en het Herodes hom in 44 n.C. laat onthoof. Sy oorskot is in die Spaanse stad Santiago de Compostela begrawe (p. 21).

Reeds voor die tiende eeu n.C. het meer as ’n miljoen mense jaarliks die pelgrimspad na Santiago – die Camino – hoofsaaklik om godsdienstige redes geloop, deesdae is dit tot 100 000 pelgrims elke somersdag.

In Mei 2006 ontvang Wilna Wilkinson (57) ’n ontstellende SMS uit Australië: Haar beste vriendin, Terrie, word weens maagkanker geopereer. Dadelik besluit Wilkinson sy gaan die Camino loop: alleen; in die winter; 800 km ver. Só wys Wilkinson vir Terrie sy stry saam met haar teen haar kanker.

Op 10 Februarie 2008 begin haar bedevaart in Frankryk. En Terrie, wat eers “onbehandelbaar” gelyk het, word deur ’n wonderwerk “onverklaarbaar skoon”.

Verskeie hoofstukke, soos die een oor klippe, en ’n ander oor bagasie, is netjies gestruktureerde essays.

Wilkinson vertel goed en beskryf uitstekend. Sy beeld die kosmopolitiese pelgrims met hul eiesoortige dialoog asof op ’n immerbewegende verhoog voor die leser uit. Daar is die mooiste natuurbeskrywings en die interessantste pelgrimslegendes. Rillingwekkend vertel sy hoe sy en Akir, ’n reisgenoot, die duiwel ontmoet het. Dan weer hoe die heilige Jakobus self haar gehelp het.

Dikwels beklemtoon Wilkinson sy het die bedevaart onderneem om ’n “geestelike” rede, nie ’n godsdienstige nie. Eindelik erken sy dat God nie meer vir haar betekenis het nie.
Ná haar bedevaart verwys sy na die natuur as haar “skepper” wat groter is as sy. Met dieselfde verdraagsaamheid waarmee sy al die uiteenlopende beskouinge van haar
medepelgrims bejeën het, neem ’n mens kennis van haar standpunt. Maar tog ook met veel jammerte.

– Stoffel Cilliers, vryskutresensent

- Volksblad

No comments:

Post a Comment